Welkom. Kan jy dit glo! Uiteindelik 'n Afrikaanse webtuiste oor
die Nasionale Krugerwildtuin!
Welkom
aan almal wat Die Taal praat en ook 'n groot welkom aan ons neefs
en niggies van Nederland en Belgiƫ. Hierdie webtuiste is
hoofsaaklik vir mense wat Afrikaans praat en passievol is oor alles
wat veld, bos, die Wildtuin en Suid-Afrikaans is.
Andertaliges is natuurlik ook welkom - daar is geen
diskriminasie op hierdie webwerf nie!
Hier is 'n plek waar jy kan gesels, stories uitruil,
sommer net lekker kry en Wildtuin besprekings maak - in jou
eie taal!
Wie van ons het nie herinneringe van slaap-voor-die-hek, padkos,
die reuk van regte moerkoffie en vleisbraai onder die sterrehemel
van Afrika nie.
Wel, hier is 'n webtuiste waar jy jou kind-wees kan herleef en
kinders van die toekoms kan opvoed oor die wonder van die
natuur.
'n Paar vinnige feite oor een van die grootste erfenisse in ons
pragtige land:
Die Park is in 1898 deur President Paul Kruger as die
Sabie Natuurreservaat geproklameer.
Op 31 Mei 1926 is die Nasionale Parkewet geproklameer met
die samesmelting van die Sabie en Shingwedzi natuurreservate na die
Nasionale Krugerwildtuin.
Die grote van die Park is amper 2 miljoen hektaar -
19,633 km
Die Krugerwildtuin is groter as Israel.
Die Krugerwildtuin strek tussen twee provinsies -
Mpumalanga en Limpopo, vir 350km van die suide na die noorde, al
langs Mosambiek tot by Zimbabwe, waar die Luvuvhu-en Limpoporiviere
bymekaar kom.
Daar is tans ongeveer 850 km teerpaaie en 1,444 km
grondpaaie.
Somerreenval met warm subtropiese weer tussen Oktober en Maart.
Wintermaande tussen April tot September - heerlike dae en koue
nagte. Wintermaande is die beste tyd om die Wildtuin te
besoek omdat kos en water skaars is, wild is
dan geneig om na damme en riviere te stroom. Die ideale
plek vir wildtuingangers om diere in hul natuurlike omgewing te
besigtig.
Geniet, deel en praat met ons!