Tuis » Het jy geweet » Berg-en-Dal ruskamp

Berg-en-Dal ruskamp

Berg-en-Dal lyk heeltemal anders as die ouer kampe waar die terrein eers skoongemaak is, die grasdakrondawels in ‘n wye sirkels gebou is die tuin aangeplant is nadat die bouwerk afgehandel is. Maar dit is hoe dinge daardie jare gedoen is...

Die beplanning van Berg-en-Dal het ‘n moderne koers ingeslaan en die kamp en geriewe is tussen die natuurlike plantegroei ingepas sonder om die omgewing te veel te versteur. Die verblyfeenhede is ook waar moontlik teen die helling en verskuil tussen koeltebome gebou. Die rondawels het plek gemaak vir reghoekige strukture wat van meet af aan ten volle toegerus is met alles wat nodig is in ‘n selfsorgeenheid. Bouwerk aan die kamp is in 1984 voltooi en Berg-en-Dal is kort daarna oopgestel vir besoekers.

Die kamp beskik ook oor konferensiegeriewe wat deel vorm van die hoof-ontvangsentrum, restaurant, winkel en verduidelikende of vertolkende sentrum. Die ongerepte plantegroei in die kamp is ideaal geskik verklarende staproetes en wandelpaadjies, en die dam in die Matjuluspruit dra by tot die besoeker se genot. Veral in die droë maande van die jaar wanneer daar min oop water is, lok die dam talle spesies, van olifante en renosters tot koedoes en rooibokke...

Die naam Berg-en-Dal is gepas want die kamp is strategies geleë in die Malelane Berg-bosveld wat gekenmerk word deur granietkoppies en gemengde grasveld, met skrapser grond teen die steiler hange.

Die rollende heuwels, valleie en riviere sorg vir ‘n ruier landskap as in die Sentrale en Noordelike distrikte, en as gevolg daarvan kom hier minder groot troppe diere voor. Nietemin is daar ‘n groot verskeidenheid spesies: witrenosters, olifante, leeus en luiperds is volop, asook Burchell se sebras, rooibokke, vlakvarke en buffels. Grys ribbokke, klipspringer en selfs wilde honde - wat hier woon of trek agter wild aan - kom ook hier voor.

Tot groot vreugde van liefhebbers van die veervolk lok die Matjuludam voor die ruskamp talle voëlspesies. Vir die meer avontuurlustiges is daar dag- en nagritte, sowel as begeleide bosstaptogte onder die leiding van ‘n opgeleide naturlewe-gids
.
Berg-en-Dal beskik ook oor ander geriewe soos ‘n groot swembad tussen die natuurlike rotse, ontvangsarea en restaurant, winkel en kafeteria, konferensiegeriewe vir 300 persone, ‘n wassery, internetkafee (met ‘n LAN-netwerk, maar nie WIFI nie), selfoonontvangs, ‘n vulstasie, ‘n filmouditorium en ‘n piekniekplek vir dagbesoekers.

Vir die kieskeurige besoeker wat uitsoek-verblyf en -geriewe, uitstekende wildkyk-geleenthede en ‘n ruskamp wat saamsmelt met die natuur verlang, is Berg-en-Dal die ideale bestemming. Bespreek sommer nou vir jou volgende besoek aan die Wildtuin!

Bogenoemde inligting is geskryf deur Oom Paul se eie Veldwagter.
Fotos geneem deur Ursula Celliers.
Bly in kontak
Besprekings
Kontak
© OomPaulSePark.co.za 2011