Tuis » Het jy geweet » Primate - Wie is Wie ? (1)

Primate - Wie is Wie ? (1)

Die Primaat-orde word deur ‘n hele klomp spesies verteenwoordig wat nie net in Afrika nie, maar ook in Suid-Oos Asië, Madagaskar, Suid-Amerika en elders voorkom. Hulle deel dieselfde eienskappe en almal het ontwikkel en aangepas by die omgewings waar hulle voorkom – van die primitiewer primate soos die lemurs, tot die intelligenter berg-gorillas en sjimpansees.

Drie nagaap-spesies, twee soorte ape en een soort bobbejaan kom in die Suider-Afrikaanse substreek voor.

Die drie nagaap-spesies lyk basies dieselfde en hul gewoontes kom ooreen. Die kop is klein en rond en het groot ore. Die groot oë, wat vorentoe kyk, is waarskynlik hul grootste bate. Die oë verleen goeie sig in die nag, wat belangrik is omdat hule in die nag aktief is.

Al drie spesies is naglewend en woon in bome. Hulle maak nes tussen digte blare of in boomholtes, en waag dit selde op die grond.

Een van die vele geluide wat hulle maak herinner aan die hartseer gehuil van ‘n baba - vandaar die Engelse algemene naam “bushbaby”.

Di e Galago, of bosnagaap, met sy dik stert is die grootste van die drie nagaap-spesies. Hulle kom voor in digte bosse, woude en ruigtes in die mees oostelike en noordoostelike dele van Suider-Afrika.


Hulle is vaalgrys en net soos die ander spesies vaardige boomklimmers wat lang afstande van tak tot tak tussen geskikte bome kan spring. Hulle vreet wilde vrugte en bomgom wat op die boomtakke voorkom, maar sal ook nie nee dankie sê vir klein reptiele, voëls of insekte nie.


Die gewone nagapie wat ons meer dikwels te sien kry, is die helfte so groot en swaar soos die bosnagaap en kom in die noordelike en noordoostelike dele van die streek in bosveld voor.

Die nagapie woon ook in bome en is naglewend en sy groot oë is ook nuttig vir kossoek in die donker. Hy is besonder rats en spring ligvoets in die bome rond op soek na boomgom of insekte, wat hy behendig met sy handjies vang. Sy stert, wat langer as die lyfie is, onderskei hom van die bosnagaap met sy bosserige stert.

Die derde spesie, naamlik Grant se nagapie, kom in die verre noordoostelike gebiede van die substreek in Mosambiek se ruier bosveld voor. Hy is ietwat groter as die nagapie en meer bruin van kleur. Hy is ook meer van ‘n karnivoor as die ander twee spesies.

Wanneer jy nou weer in die bos ‘n klaende geroep hoor – moenie bekommerd wees nie, die nagapies is tuis in hul boomhuise.

Volgende keer vertel ons meer oor ape en bobbejane in “Het jy geweet?”.

Die eerste 2 fotos is geneem deur Philip vd Berg. Kyk gerus op sy webtuiste : www.hphpublishing.co.za - vir wonderlike fotos en 'n wildgidsboek van die Nasionale Krugerwildtuin.

Die laaste foto is geneem deur Marietjie van Staden.

Bogenoemde inligting is geskryf deur Oom Paul se eie Veldwagter.
Bly in kontak
Besprekings
Kontak
© OomPaulSePark.co.za 2011