Tuis » Het jy geweet » Wat moet word van ons renosters?

Wat moet word van ons renosters?

Die toedrag van sake is ontstellend vir die beamptes wat die huidige aanslag moet keer, maar ook vir diegene wat hul lewe daaraan gewy het om ons renosters teen die onversadigbare vraatsug van die onwettige handel in renosterhorings te beskerm.

Daar kom vyf renosterspesies wêreldwyd voor: die wit- en swartrenosters van Afrika, en die Javaanse, Indiese en Sumatra-renosters. Deur die jare het die mens die vyf spesies al hoeveel keer tot op die rand van uitwissing gedryf.

Die Indiese renoster het net een horing. Twee derdes van al die Indiese renosters wat oor is kom voor in die Kazingira Nasionale park in Assam, Indië.

Die Javaanse renoster word gelys as een van die mees bedreigde soogdiere ter wêreld en in 2002 was daar maar net 60 van hulle oor. Die renoster, wat ook net een horing het, is nou verwant aan die Indiese renoster.

Die Sumatra-renoster is die kleinste renosterspesie en verskil van al die ander renosterspesies omdat dit hare het wat dit vir hulle moontlik maak om in die hoërliggende gebiede van Borneo en Sumatra te oorleef.

Die Sumatra-renoster het ook twee horings soos die Afrika-renosters en daar is net sowat 200 van hulle oor.
Die grootste bekommernis heers oor die Afrika-renosters. Teen die draai van die eeu was die witrenosters in Suid-Afrika in so ‘n mate uitgeroei dat daar net sowat 20 van hulle in die Umfolozi Wildreservaat in KwaZulu-Natal oor was.

Onder die beskerming van die Natalse Parkeraad het die bevolking in die Umfolozi so goed aangewas dat daar in 1961 begin kon word om van die renosters in ander gebiede te hervestig.

Daarmee is “Operasie Renoster” onder aanvoering van dr. Ian Player, wat ‘n reuserol in bewaring gespeel het, van stapel gestuur.

Meer as 3500 witrenosters is na ander reservate in Suider Afrika en ander wêrelddele versprei. Dit het daartoe gelei dat Suid-Afrika die grootste witrenosterbevolking gehad het – en nou word die voortbestaan van die spesie opnuut ernstig bedreig deur renosterstropers.

Net soos die witrenosters is die swartrenosters ook aanvanklik in die Natalse Parkeraad se reservate in Zoeloeland beskerm. Teen die einde van 1962 kon ook van hulle in ander gebiede hervestig word en teen die einde van 1992 het sowat 200 van die swartrenosters reeds ‘n ander tuiste gevind. Al het swartrenostergetalle met die jare stadigaan toegeneem, het die totale bevolking sedert 1980 met 83% afgeneem.

Ons het beslis ‘n probleem wat baie gou opgelos moet word anders gaan ons kleinkinders nooit die voorreg het om ‘n renoster in die vrye natuur te sien nie.

Ons vertel in die volgende uitgawe van “Het jy geweet?” meer oor die gewoontes van die swart- en witrenoster en die rede waarom daar so meedoënloos jag op hulle gemaak word.

Die fotos is geneem deur Ursula Cellliers.
Bogenoemde inligting is geskryf deur Oom Paul se eie Veldwagter.
Bly in kontak
Besprekings
Kontak
© OomPaulSePark.co.za 2011