Tuis » Het jy geweet » Wat word van ons renosters (Deel 2)

Wat word van ons renosters (Deel 2)

Swart- en wit renosters se benaming het niks met hul kleur te doen nie – albei is hoofsaaklik grys van kleur. Daar is verskillende menings oor hoe die wit- en swartrenosters hul name in die volksmond gekry het. Die eerste Hollandse setlaars het die witrenoster se vierkantige bolip as “wyd” beskryf, en so het hy bekend geraak as die “witrenoster”.

Die renosterspesie met die gepunte bolip het toe vanself toe die “swartrenoster” geword. Die twee spesies is geneties onverwant nie, kompeteer nie vir dieselfde weiding nie en teel nie onder mekaar nie.

Projekte soos Operasie Renoster, deurdagte natuurlewebestuurstegnieke en verfynde infrastruktuur het verseker dat meer as 90% witrenosters van al die renosters in die wêreld vandag in Suid-Afrika voorkom. Ongelukkig is dit ook die renosters in hierdie gebied waarop stropers hul visier gestel het.

Dis te verstane dat witrenosters makliker die stropers ten prooi val want hulle loop saam in groepe. Hulle vorm klein troppe van tot 17 bestaande uit ‘n familiegroep van koeie, jong volwasse diere en kalfies.

Witrenosters is hoofsaaklik grasvreters en gebruik die prominente vierkantige lip om die gras mee af te vreet voordat dit met die maaltande fyngekou word.

Weens die witrenoster se voorkeurweiding kom hulle gewoonlik in oop areas voor waar hulle maklik sigbaar is.

Wanneer die koei skrik hardloop sy weg met die kalf voor haar uit soos wat sy hom weglei van gevaar af. Die kalf bly ten minste twee, drie jaar by die koei totdat sy gereed is om weer dragtig te raak.

Swartrenosters is ietwat kleiner as witrenosters en is hoofsaaklik blaarvreters. Die gepunte bolip word gebruik om blare en takkies te pluk en in die bek te druk.

Swartrenosters loop alleen en word selde in groepe aangetref, buiten wanneer hulle water drink.

Die bulle loop gewoonlik alleen en kom net by die koeie om te paar. Koeie en kalwers word gewoonlik saam gesien totdat die kalf tussen twee en vier jaar oud is en dit weer tyd is vir die koei om te paar.

Swartrenosters kom in digter plantegroei as witrenosters voor. Wanneer gevaar dreig, hol die ma voor die kalf uit.

Swartrenosters is berug daarvoor dat hulle kort van draad is, aggressief is en sommer sonder rede stormloop.

Wit- en swartrenosters is kenmerkend bysiende, maar kan besonder goed ruik en hoor en ten spyte van hul oënskynlike lompheid is hulle buitengewoon rats en angswekkend vinnig.

Wat is dit wat renosterhorings so gesog maak? Hoekom word die reusediere so meedoenloos vervolg, in so ‘n mate dat hul status tans internasionaal kommer wek?

Renosters se belangrikste wapen is die twee horings op die neus. Die neushorings is eintlik glad nie regte horings soos wat ‘n mens byvoorbeeld by beeste kry nie. Renosterhoring bestaan uit keratien, dieselfde proteïen wat in menshare en -naels voorkom.

Dit is ‘n mite dat verpoeierde renosterhoring afrodisiese eienskappe het of enige nut het in die behandeling van stuiptrekkings of koors, soos tradisionele Chinese medisyne beweer.

In Jemen word die horings ook gebruik as die hef vir ‘n Jambia, ‘n tradisionele krom dolk wat elke seun wat ‘n man word begeer. Renosterhorings is uiters gesog vir hierdie doel en astronomiese pryse word op die swartmark daarvoor betaal.

Die vraag is wat voortaan gedoen kan word om ons renosters te beskerm. Moderne wildstropers is vaardig, goed ingelig, goed georganiseerd en gebruik gesofistikeerde tegnieke.

As Suid-Afrikaners staar ons die onaangename werklikheid in die gesig dat ons een van ons kosbaarste natuurbates kan verloor. Dit hang van onsself af ons gaan saamstaan om die renoster te red.

Die mens het die probleem veroorsaak: met ons tegnologiese vooruitgang kan ons sekerlik die probleem oplos?

Die fotos is geneem deur Ursulla Celliers.
Bogenoemde inligting is geskryf deur Oom Paul se eie Veldwagter.
Bly in kontak
Besprekings
Kontak
© OomPaulSePark.co.za 2011