Tuis » Het jy geweet » Shingwedzi Ruskamp

Shingwedzi Ruskamp

Nee, sê ander: die sentrale distrik tussen die Letaba- en Sabierivier is hulle gunstelinggebied. En dan is daar weer diegene wat versot is op die suidelike distrik tussen die Sabie- en Krokodilrivier. Daar is darem ook diegene wat meen die ganse Wildtuin met sy ryke biodiversiteit is ‘n wonderlike plek...

Besoekers wat dikwels in Oom Paul se Park kom kuier meen elke ruskamp is uniek en het ‘n eie bekoring - maar in hulle harte koester elkeen tog maar sy eie gunsteling!

Shingwedzi Ruskamp het deur die dekades heen ‘n gunsteling onder binnelandse en buitelandse besoekers gebly. Hoekom sou dit wees dat die ruskamp immer ‘n bynes van bedrywigheid met ‘n hoë besoekerstal is. Is dit omdat die kamp gerieflik tussen die noordelike en suidelike distrikte van die Wildtuin geleë is? Of is dit omdat die ruskamp naby die Shingwedzirivier geleë is en bekend is vir die groot olifantbevolking wat daar voorkom? Of is dit sommer net omdat dit Shingwedzi is?

Die ruskamp lê in die hart van die Wildtuin se mopanieveld, maar Kanniedooddam naby die ruskamp maak dit die ideale plek om voëls en diere waar te neem. Hier is volop water en die digte oewerbos en ruie veld is die tuiste van talle voëlspesies, maar ook soogdierspesies soos olifante, buffels, die skugtere njala, waterbokke en ‘n menigte ander.

Deur die jare is Shingwedzi, een van die oudste ruskampe, van tyd tot tyd opgradeer, maar ten spyte van veranderinge het die rustieke bosgevoel behoue gebly. Die grasdak-rondawels wat in ‘n wye sirkel gebou is, is die perfekte agtergrond vir braaivleisvuurtjies wat op ‘n soel skemeraand flikker terwyl gelukkige gaste rustig die dag se avonture bespreek.

Geriewe sluit ‘n restaurant, kafeteria, winkel, OTM, wassery, vulstasie, swembad, dagbesoeker piekniekplek, gemeenskaplike kombuise en badkamers, en konferensiegeriewe in. Hier is ook selfoonontvangs.

Terwyl jy daar is, is jy dalk lus om saam met ‘n gids in die veld te gaan stap of ‘n draai in die veld te gaan ry. Jy kan ook op eie stoom by die Kanniedood- voëlkykskerm sowat 7km oos van die kamp af, of by die Ntshivana-voëlkykskerm sowat 30km oos van die kamp af, jou aan die ryke voëllewe gaan verwonder. Elke aand buiten Sondae word natuurlewe films op ‘n grootskerm vertoon.

Wildkyk langs die paaie rondom Shingwedzi stel selde teleur want hier sien ‘n mens leeus, luiperds, hiënas en selfs troppe wildehonde.

Op die oop vlaktes noord van die Babalala-piekniekplek sien jy dalk ‘n vlugvoetige jagluiperd en vlaktespesies soos bastergemsbokke, swartwitpense, basterhartbeeste, elande of Lichtenstein se hartbeeste.

Voels in die ruskamp slulit verskeie neushoringvoël- en spreeuspesies in, asook Bennett se speg, die Natal-janfrederik en Europese boomvalk. En eie aan die ongerepte noorde priem die roep van ‘n skopsuil, of ‘n groot ooruil in die ruie oewerbos langs die rivier, soms die stilte van die Afrika-nag.

Vir die besoeker wat die ware Afrika in al sy glorie wil ervaar, is Shingwedzi en die omliggende gebied net die regte plek. Bespreek sommer nou jou volgende besoek aan die Wildtuin

Bogenoemde inligting is geskryf deur Oom Paul se eie Veldwagter.
Fotos vanaf internet.
Bly in kontak
Besprekings
Kontak
© OomPaulSePark.co.za 2011